27 “Ek is die Here, die God van al die mense van die wêreld. Is daar iets wat te moeilik is vir My om te doen?
28 Ek sal hierdie stad aan die Babiloniërs oorgee. Nebukadnesar, wat die koning van Babel is, sal Jerusalem inneem.
29 Die Babiloniërs wat nou buite die mure van die stad baklei, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Hulle sal die huise afbrand. Die vyand sal ook die huise afbrand waar die mense bo-op die dak wierook vir Baäl gebrand het. Die mense het ook by hierdie huise ander gode vereer deur van hulle wyn uit te gooi. Hierdie verering van die gode het My baie kwaad gemaak.
30 “Van die vroegste tye af al het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My verskriklik kwaad gemaak met die goed wat hulle doen.
31 Vandat Jerusalem gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad My nog altyd net kwaad gemaak. Ek wil hê dit moet voor my oë verdwyn.
32 Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte goed wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete en die mense van Jerusalem maak My woedend.
33 My mense het die rug vir My gedraai. Dit het nie eens gehelp dat Ek aangehou en aangehou het om hulle te leer wat reg en wat verkeerd is nie. Hulle het hulle nie aan My gesteur nie. Hulle wou nie leer nie.