35 Hulle het ook in die Hinnomvallei offerplekke vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle eie kinders op die altare verbrand om in Molek se goeie boekies te kom. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eens in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. Hulle het Juda so ’n slegte ding laat doen.”
36 Die Here, die God van Israel sê: “Ek wil nou nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel dat hierdie stad onder die beheer van die koning van Babel sal kom as gevolg van die gevegte, die gebrek aan kos en die siektes.
37 Maar hoor gerus hier, Ek sal my mense weer bymekaarmaak wat Ek weggejaag het omdat Ek kwaad was. Dan sal Ek hulle terugbring uit al die lande waar Ek hulle laat beland het. Hier sal Ek hulle veilig in Jerusalem laat bly.
38 Dan sal hulle weer my volk wees en Ek sal hulle God wees.
39 Ek sal maak dat hulle almal sal saamstem om vir altyd net vir My te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste ding wees om te doen.
40 Ek sal met hulle ’n ooreenkoms maak wat nooit sal ophou nie. Ek sal hulle nooit in die steek laat nie. Ek sal ook nie ophou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My te respekteer. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.
41 Dit sal vir My baie lekker wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal sorg dat hierdie land weer hulle vaste blyplek sal wees. Dit is my grootste begeerte om te sien dat dit gebeur.