41 Dit sal vir My baie lekker wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal sorg dat hierdie land weer hulle vaste blyplek sal wees. Dit is my grootste begeerte om te sien dat dit gebeur.
42 “Ek het al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur. Maar soos Ek dit veroorsaak het, sal Ek nou weer goeie dinge vir hulle doen. Ek het belowe dat Ek dit sal doen.” Dit is wat die Here sê Hy gaan doen.
43 Julle land is nou verlate omdat die Babiloniërs dit verwoes het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het. Maar die Here sê: “Grond sal weer gekoop en verkoop word.
44 Die grond sal vir geld verkoop word. Koopkontrakte sal opgestel, geteken en voor getuies verseël word. Dit sal gebeur in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem. Verder ook in die stede in Juda, in die heuwellande, in die stede teen die westelike hange en die stede in die Negev in die suide. Ek sal sorg dat omstandighede verander. Dit sal weer met hulle goed gaan.” Ek, die Here, sê dit!