Jeremia 33:9-15 DB

9 Jerusalem sal vir My baie blydskap bring. Al die nasies van die wêreld sal goeie dinge oor My sê en My met respek behandel. Hierdie nasies sal van vrees aan die bewe gaan as hulle hoor van al die goeie dinge wat Ek vir my mense gedoen het.”

10 Die Here het weer gesê: “Julle sê: ‘Hierdie land is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer in die leë strate van Jerusalem en in die stede van Juda bly wees en

11 vrolik lag. Die mense sal ook weer troues hou en vrolik wees saam met die bruidspare. Ander mense weer sal opgewekte liedere sing om vir die Here te wys hoe dankbaar hulle teenoor Hom is. Hulle sal by die tempel sing: ‘Loof die Here wat sterker as alles en almal is, want Hy is goed. Sy liefde en getrouheid hou nooit op nie.’ Ek sal die gevangenes wat uit die land weggeneem is, terugbring,” sê die Here.

12 Die Here het weer gesê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere in en om die stede is weg. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape laat wei.

13 Daar sal weer genoeg skape in die land wees om te tel. Dit sal gebeur in die stede van die heuwelgebied, die westelike hange, die Negev in die suide. Verder ook in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die stede van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”

14 Die Here sê ook: “Die dag sal kom dat Ek al die beloftes wat Ek aan Israel en Juda gemaak het, waar laat word.

15 Dit is ook dié tyd dat Ek ’n wettige erfgenaam van Dawid koning sal maak. Hy sal sorg dat mense deur die hele land regverdig behandel word en doen wat reg is.