1 In ’n stadium was koning Nebukadnesar van Babel met sy leër besig om teen Jerusalem en die stede van Juda te veg. Saam met sy leër het ook die leërs van ander nasies wat onder sy gesag was, geveg. Gedurende hierdie tyd het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
2 “Gaan na Sedekia wat die koning van Juda is en sê vir hom: Hoor ’n bietjie wat sê die Here wat die God van Israel is. Hy sê: Ek gaan Jerusalem aan die koning van Babel oorgee. Hy sal die stad verbrand.
3 Sedekia, jy sal nie wegkom nie. Hulle sal jou vang en aan Nebukadnesar oorgee. Jy en hy sal persoonlik ontmoet voordat hy jou as gevangene na Babel toe sal stuur.
4 “Maar, koning Sedekia, luister na die belofte wat die Here maak. Hy sê: Jy sal nie in ’n geveg doodgaan nie.
5 Nee, jy sal in vrede sterf. Jou mense sal wierook brand by jou begrafnis, net soos hulle met die konings voor jou gedoen het. Hulle sal oor jou huil en sê: ‘Ag, ons koning is dood!’” Die Here sê dat Hy sal sorg dat dit so gebeur.
6 Jeremia het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen. Hy het die boodskap vir koning Sedekia gegee.