9 Ons bou nie huise om in te bly nie. Verder het ons ook nie wingerde of landerye met graan op nie.
10 Ons bly in tente en ons gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab vir ons gegee het.
11 Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek het, het ons bang geword vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou hier.”
12 Die Here het toe vir Jeremia gesê wat hy moes doen.
13 Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy het gesê: “Gaan na die mense van Juda en Jerusalem toe en sê vir hulle: Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees.
14 Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie. Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle bly weier om na My te luister.
15 Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur. Hulle het julle gewaarsku om op te hou om slegte goed te doen. Julle moes julle manier van doen verander en ophou om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede in hierdie land kon bly.