1 Die Here het weer vir Jeremia ’n opdrag gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim die seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê:
2 “Kry vir jou ’n boek en skryf alles neer wat Ek vir jou gesê het oor Israel, Juda en die ander nasies. Begin so ver terug toe Josia koning was en Ek die eerste boodskap vir jou gegee het. Skryf dan verder al die ander dinge neer wat Ek vir jou gesê het, ook dit wat Ek nou vir jou gaan sê.
3 Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle hoor van al die slegte dinge wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle kan vergewe vir die verkeerde en slegte goed wat hulle gedoen het.”
4 Jeremia het toe vir Baruk die seun van Nerija geroep. Baruk het alles wat Jeremia hardop vir hom voorgesê het, in ’n boek neergeskryf. Die boek was in so ’n vorm dat dit opgerol kon word.
5 Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie.
6 Maar gaan jy môre, wanneer dit die dag is waarop mense sonder kos bly, na die tempel toe. Gaan lees vir die mense uit hierdie boek wat die Here sê. Mense van al die stede in Juda sal môre daar wees.