16 Toe hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, was hulle baie bang. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet vir die koning alles vertel wat ons gehoor het.”
17 Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, waar kry jy alles wat jy hier neergeskryf het? Het Jeremia vir jou gesê wat om te skryf?”
18 Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit in ink in hierdie boek neergeskryf.”
19 Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet vir julle eie beswil liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”
20 Die amptenare het die boek in die kantoor van Elisama die sekretaris gebêre en toe na die paleis toe gegaan. Hulle het vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.
21 Koning Jojakim het vir Jehudi gestuur om die boek te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl sy amptenare bygestaan het.
22 Dit was in die winter. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.