17 In ’n later stadium het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou by hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my, Jeremia?” Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het ’n boodskap vir u! U sal aan die koning van Babel oorgegee word.”
18 Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het?
19 Waar is daardie profete nou wat vir u gesê het dat die koning van Babel nie teen u of hierdie land sal optrek nie?
20 U Majesteit, ek smeek u. Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis toe terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.”
21 Koning Sedekia het toe opdrag gegee dat hulle Jeremia nie moes terugstuur na die tronk waar hy eers was nie. Hulle het hom na die gedeelte van die paleis gevat waar die wagte gebly het. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle elke dag vir Jeremia ’n brood moes gee wat van die bakkery af kom. Hulle moes daarmee aanhou solank daar nog brood in die stad te kry was. So is Jeremia dan in die wagte se deel van die paleis aangehou.