3 In elk geval, koning Sedekia het twee mans na Jeremia toe gestuur. Hulle was Jukal, ’n seun van Selemja, en Sefanja, ’n seun van Maäseja. Sefanja was ’n priester. Hulle moes vir Jeremia vra om namens hulle tot die Here te bid.
4 Jeremia was toe nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense.
5 Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek. In dié stadium het die Babiloniese leër Jerusalem omsingel en van die buitewêreld afgesny. Maar toe hulle van die Egiptiese opmars hoor, het hulle van Jerusalem af teruggetrek.
6 Die Here die God van Israel het met Jeremia gepraat.
7 Hy het gesê: “Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om te kom uitvind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help.
8 Maar omdat hulle nou terugtrek, sal die Babiloniërs terugkom en weer teen die stad kom veg. Hulle sal Jerusalem inneem en afbrand.
9 Sê vir hulle Ek sê: Moenie julleself flous en dink die Babiloniërs sal wegbly nie. Hulle kom vir seker terug.