13 Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis gebly, in die gedeelte waar die wagte gebly het.
14 Op ’n dag het koning Sedekia Jeremia laat haal. Hulle het mekaar toe by die derde ingang van die tempel gekry. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”
15 Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.”
16 Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia belowe: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorgee aan die mense wat jou dood wil sien nie.”
17 Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: As u u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Die stad sal dan ook nie verbrand word nie.
18 Maar as u nie wil oorgee nie, is daar geen kans vir u om weg te kom nie. Jerusalem sal in die hande van die Babiloniërs val. Hulle sal die stad aan die brand steek.”
19 Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs gee my dalk oor aan die Jode wat reeds na hulle toe oorgeloop het. Hulle sal my mishandel.”