22 Al die vroue wat nog in die paleis oor is, sal uitgebring word na die offisiere van die Babiloniese koning. Hulle sal sê: ‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat. Hulle het u mislei. Noudat u in die moeilikheid beland het, waar is u vriende nou?’
23 “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitbring. U self sal ook nie kan ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en hierdie stad afbrand.”
24 Sedekia het toe vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood!
25 My amptenare mag nie hoor dat ek met jou gepraat het nie. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy nie vir ons wil sê nie, sal ons jou doodmaak.’
26 Jeremia, as dit wel so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.”
27 Soos verwag, was dit nie lank nie of die amptenare het by Jeremia uitgekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom gevra het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Daar was niemand van hulle wat gehoor het wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie.
28 Jeremia het in die wagte se gedeelte van die paleis gebly totdat Jerusalem die dag ingeneem is.