8 Ebed-Melek het van die paleis af na die hek waar die koning was, gegaan en vir hom gesê:
9 “U Majesteit, hierdie mans het ’n verskriklike ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal van die honger doodgaan. Omtrent al die brood in die stad is op.”
10 Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 van my mense saam met jou en trek Jeremia uit die put uit op voordat hy doodgaan.”
11 Ebed-Melek het toe van die mense na die paleis toe saamgevat. Hy het lappe uit die pakkamer gaan haal. Hy het ook ou klere daar gekry. Hy het hierdie lappe en ou klere na die put toe gevat en dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.
12 Hy het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat ons jou nie seermaak wanneer ons jou optrek nie.” Jeremia het toe so gemaak.
13 Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis gebly, in die gedeelte waar die wagte gebly het.
14 Op ’n dag het koning Sedekia Jeremia laat haal. Hulle het mekaar toe by die derde ingang van die tempel gekry. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”