6 Daar in Ribla het die koning van Babel Sedekia se seuns voor sy oë doodgemaak. Hy het ook die leiers van Juda daar laat doodmaak.
7 Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek en hom met kettings geboei. Toe het hy hom weggevat Babel toe.
8 Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise in Jerusalem aan die brand gesteek. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.
9 Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in Jerusalem oorgebly het, weggevat uit hulle land na Babel toe. Hy het saam met hulle ook die mense weggevat wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. So ook die res van die mense van Juda.
10 Maar Nebusaradan het party van die armste mense in Juda laat agterbly. Hy het vir hulle wingerde en landerye gegee.
11 Koning Nebukadnesar het vir Nebusaradan ’n opdrag oor Jeremia gegee. Hy het gesê:
12 “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”