8 Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise in Jerusalem aan die brand gesteek. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.
9 Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in Jerusalem oorgebly het, weggevat uit hulle land na Babel toe. Hy het saam met hulle ook die mense weggevat wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. So ook die res van die mense van Juda.
10 Maar Nebusaradan het party van die armste mense in Juda laat agterbly. Hy het vir hulle wingerde en landerye gegee.
11 Koning Nebukadnesar het vir Nebusaradan ’n opdrag oor Jeremia gegee. Hy het gesê:
12 “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”
13 Die koning van Babel het belangrike offisiere gehad wat vir Jeremia moes sorg. Hulle was Nebusaradan, die hoof van die koning se persoonlike wagte, Nebusasban, hoof van die paleis, en Nergal-Saresar, wat die hoof van die weermag was, en ook nog ander offisiere.
14 Hulle het Jeremia uit die tronk laat haal en vir Gedalja opdrag gegee om vir hom te sorg. Gedalja was die seun van Agikam en die kleinseun van Safan. Hy het Jeremia na sy huis toe teruggevat. So kon Jeremia weer tussen sy eie mense bly.