23 Ek het na die aarde gekyk en gesien dat dit woes en leeg was. Ek het ook na die hemel gekyk, en dit was sonder lig.
24 Ek het na die berge en die heuwels gekyk, en hulle het gebewe.
25 Toe ek weer kyk, kon ek nie enige mense sien nie. Selfs die voëls het weggevlieg.
26 Toe ek om my kyk, het ek gesien dat die vrugbare grond ’n woestyn geword het. Die stede het afgebreek gelê, want die Here het hulle platgevee toe Hy verskriklik kwaad was.
27 Die Here sê: “Die hele land sal dalk verwoes lê, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie.
28 Die aarde sal huil asof iemand dood is. Die hemel sal ook donker word. Wat is die rede hiervoor? Ek het ’n besluit geneem en Ek gaan doen wat Ek besluit het om te doen. Ek sal nie van plan verander nie.”
29 As die mense die geluid hoor van die vyand se magte wat nader kom, sal hulle uit vrees uit die stede vlug. Hulle sal in die bosse wegkruip of hardloop om skuiling in die berge te probeer kry. Al die stede sal leeg staan. Daar sal nie ’n mens in hulle oorbly nie.