25 Toe ek weer kyk, kon ek nie enige mense sien nie. Selfs die voëls het weggevlieg.
26 Toe ek om my kyk, het ek gesien dat die vrugbare grond ’n woestyn geword het. Die stede het afgebreek gelê, want die Here het hulle platgevee toe Hy verskriklik kwaad was.
27 Die Here sê: “Die hele land sal dalk verwoes lê, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie.
28 Die aarde sal huil asof iemand dood is. Die hemel sal ook donker word. Wat is die rede hiervoor? Ek het ’n besluit geneem en Ek gaan doen wat Ek besluit het om te doen. Ek sal nie van plan verander nie.”
29 As die mense die geluid hoor van die vyand se magte wat nader kom, sal hulle uit vrees uit die stede vlug. Hulle sal in die bosse wegkruip of hardloop om skuiling in die berge te probeer kry. Al die stede sal leeg staan. Daar sal nie ’n mens in hulle oorbly nie.
30 Wat probeer jy doen, Jerusalem? Jy is ’n stad wat kaal gestroop is. Hoekom probeer jy aandag trek deur ’n rooi rok aan te trek? Hoekom trek jy feesklere aan en behang jy jou met juwele? Hoekom kleur jy jou oë in met maskara? Jy maak jou verniet mooi. Jou bondgenote sal geen respek vir jou hê nie en sal jou doodmaak.
31 Ek hoor ’n uitroep van pyn. Dit klink net soos ’n vrou wat haar eerste kind in die wêreld bring. Dit is die mense van Jerusalem wat so hyg om asem te kry. Hulle steek hulle hande in wanhoop uit en sê: “Ons voel ellendig. Ons is so kwesbaar voor die moordenaars!”