1 Die Here het weer met Jeremia gepraat. Dit was nadat Nebusaradan hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep mense van Jerusalem en Juda wat die Babiloniërs gevang het. Hulle was op pad na Babel as gevangenes.
2 Nebusaradan was die hoof van die koning se persoonlike wagte. Hy het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het gesê dat slegte dinge hierdie land sal tref.
3 Dit is presies wat nou gebeur. Hulle het verkeerde dinge gedoen waarvan die Here net mooi niks hou nie. Hulle steur hulle ook nie aan wat Hy van hulle verwag nie.
4 Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is meer as welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land.”
5 Net toe Nebusaradan wou loop, draai hy na Jeremia en sê: “As jy bly, gaan dan na Gedalja toe wat die seun van Agikam en die kleinseun van Safan is. Hy is deur die koning van Babel as bestuurder van die stede in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is vir jou om te kies, jy kan gaan net waar jy lus het.” Nebusaradan het toe vir Jeremia ’n voorraad kos en ’n geskenk gegee. Toe het hy hom laat gaan.
6 Jeremia het toe na Gedalja toe gegaan. Hy was in Mispa. Jeremia het tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, by Gedalja gaan bly.
7 Daar was nog offisiere en manskappe van Juda in die plattelandse gebiede afgesny. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja die seun van Agikam as bestuurder van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders en ook die arm mense wat nie uit Juda na Babel toe weggevat is nie.