11 Die Jode wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder hoor dat hy Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het,
12 het hulle uit al die plekke waarnatoe hulle gevlug het, teruggekom na die land Juda toe. Hulle het eers na Gedalja in Mispa toe gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en vrugte begin insamel.
13 Kort hierna het Joganan die seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe wat in die platteland was, na Gedalja in Mispa gekom.
14 Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael, die seun van Netanja, gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.
15 Later het Joganan privaat met Gedalja in Mispa gepraat. Hy het aangebied om sonder dat iemand daarvan weet, vir Ismael te gaan doodmaak. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te kom vermoor? As hy dit regkry, sal al die Jode wat teruggekom het omdat u hier is, net weer uitmekaargedryf word. Daar sal ook niks oorbly van die groep mense in Juda wat nie uit die land weggevat is nie.”
16 Maar Gedalja wou hom nie glo nie. Hy het gesê: “Jy mag Ismael nie vermoor nie, want wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”