5 Net toe Nebusaradan wou loop, draai hy na Jeremia en sê: “As jy bly, gaan dan na Gedalja toe wat die seun van Agikam en die kleinseun van Safan is. Hy is deur die koning van Babel as bestuurder van die stede in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is vir jou om te kies, jy kan gaan net waar jy lus het.” Nebusaradan het toe vir Jeremia ’n voorraad kos en ’n geskenk gegee. Toe het hy hom laat gaan.
6 Jeremia het toe na Gedalja toe gegaan. Hy was in Mispa. Jeremia het tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, by Gedalja gaan bly.
7 Daar was nog offisiere en manskappe van Juda in die plattelandse gebiede afgesny. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja die seun van Agikam as bestuurder van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders en ook die arm mense wat nie uit Juda na Babel toe weggevat is nie.
8 Hierdie offisiere en manskappe het na Gedalja toe in Mispa gegaan. Hulle was Ismael die seun van Netanja, Joganan en Jonatan die seuns van Kareag, Seraja die seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka en hulle manskappe.
9 Gedalja het sy woord vir hierdie offisiere en hulle manskappe gegee. Hy het hulle belowe dat niks met hulle sal gebeur as hulle hulle aan die Babiloniërs oorgee nie. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hy het gesê: “Bly hier in die land en werk saam met die koning van Babel. Dan sal dit met julle goed gaan.
10 Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs onderhandel wat ons kom besoek. Maar oes julle druiwe, vrugte en olywe en bêre dit in houers. Bly in die stede waarvan julle nou in beheer is.”
11 Die Jode wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder hoor dat hy Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het,