1 Toe Jeremia klaar gepraat het en gesê het wat die Here wou hê hulle moes hoor,
2 het Asarja seun van Hosaja en Joganan seun van Kareag en party van die arrogante mans by hulle vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie gestuur om vir ons te sê ons mag nie in Egipte gaan bly nie!
3 Dit is Baruk die seun van Nerija wat jou teen ons opgesteek het. Hy wil hê die Babiloniërs moet ons in die hande kry. Hulle sal ons dan doodmaak of uit ons land uit wegvat Babel toe.”
4 Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie luister na die Here se opdrag om in Juda te bly nie.
5 Joganan en die offisiere vat toe al die Joodse mense wat eers na buurlande toe gevlug het en toe weer in Juda kom bly het, saam met hulle.
6 Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters. Verder ook al die mense wat Nebusaradan in Gedalja se sorg gelos het. Nebusaradan was die hoof van die Babiloniese koning se persoonlike wagte. Jeremia en Baruk was ook onder die groep mense wat hulle met hulle saamgevat het.
7 Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en het Egipte toe gegaan. Hulle het by die stad Tagpanges aangekom.