4 Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie luister na die Here se opdrag om in Juda te bly nie.
5 Joganan en die offisiere vat toe al die Joodse mense wat eers na buurlande toe gevlug het en toe weer in Juda kom bly het, saam met hulle.
6 Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters. Verder ook al die mense wat Nebusaradan in Gedalja se sorg gelos het. Nebusaradan was die hoof van die Babiloniese koning se persoonlike wagte. Jeremia en Baruk was ook onder die groep mense wat hulle met hulle saamgevat het.
7 Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en het Egipte toe gegaan. Hulle het by die stad Tagpanges aangekom.
8 By Tagpanges het die Here weer met Jeremia gepraat. Hy het gesê:
9 “Gaan na die farao se paleis wat in Tagpanges is. Daar is ’n stuk plaveisel voor die ingang van die paleis. Vat ’n paar groot klippe en druk hulle in die klei wat tussen die stene van die plaveisel is. Maar doen dit so dat die mense van Juda jou sien as jy dit doen.
10 Sê dan vir die mense van Juda die Here wat die God van Israel is, sê: Julle kan julle klaarmaak, Ek gaan Nebukadnesar, die koning van Babel, hier na Egipte toe laat kom. Hy is in my diens. Ek sal hom sy troon laat neersit hier waar Ek hierdie klippe laat wegsteek het. Hy sal sy koninklike tent bo-oor die plek opslaan.