11 Daarom sê die Here wat die God van Israel is: “Ek het besluit om almal van julle te vernietig! Ek gaan ontslae raak van die hele Juda.
12 Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aangedring het om in Egipte te bly, uitwis. Hulle sal in Egipte in geweld of van die honger doodgaan. Almal, van klein tot groot, sal op so ’n manier doodgaan. Mense sal skrik as hulle sien wat met julle gebeur het. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.
13 Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het. Hulle voorland is om dood te gaan in oorlog, van honger te sterf of die slagoffers van epidemies te wees.
14 Niemand van die mense wat oorleef het in Juda toe die res van die mense na Babel toe weggevat is, sal in Egipte oorleef nie. Hulle het gedink dat hulle net tydelik in Egipte sou kom bly en dan permanent na Juda sou teruggaan. Maar net ’n paar mense sal die rampe in Egipte oorleef en dit regkry om na Juda toe terug te gaan.”
15 ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gebly het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het. Verder ook nog uit ’n groep vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê:
16 “Ons sal nie na die dinge luister wat jy sê van die Here af kom nie!
17 Ons sal alles doen wat ons beloof het ons sal. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel. Ons sal ook drank uitgooi om te wys dat ons haar vereer. Dit is tog wat ons nog altyd gedoen het en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe ons dit gedoen het, het ons volop kos gehad. Dit het eintlik sommer baie goed met ons gegaan. Ons het nie probleme geken nie.