2 Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê: “Julle het al die slegte dinge gesien wat Ek Jerusalem en die stede van Juda laat oorkom het. Vandag lê hulle verwoes. Niemand bly meer daar nie.
3 Al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het My baie kwaad gemaak. Hulle het sowaar gegaan en vir ander gode wierook gebrand en hulle aanbid. En dit nog vir gode wat nie hulle of hulle voorouers ooit geken het nie.
4 Hoeveel keer het Ek nie my profete gestuur om hulle te smeek om nie hierdie afskuwelike dinge te doen wat Ek so haat nie.
5 Maar my mense wou nie luister nie en wou nie ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir hierdie gode te brand.
6 Dit is daarom dat my woede oorgeborrel het en soos vuur geval het op die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net ’n hoop verlate bourommel.”
7 En nou vra die Here wat die God van Israel is, vir julle: “Hoekom bring julle so ’n slegte ding oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie. Nie enige man, vrou of kind wat van Juda af kom, sal oorleef nie. Niemand sal oorbly nie.
8 Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode hier in Egipte waar julle kom bly het! Al wat sal gebeur, is dat julle julleself sal vernietig. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.