Jeremia 44:22-28 DB

22 Die Here kon dit nie langer uitstaan dat julle hierdie slegte dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n hoop bourommel is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin bly.

23 Die Here bring hierdie ellendes oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het nie gedoen wat die Here van julle verwag nie. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

24 Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na wat ek van die Here af vir julle wat in Egipte bly, gekry het.

25 Die Here sê: Julle en julle vroue het gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Nou hou dan by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26 Ek sê weer, hoor wat is die Here se boodskap vir julle. Hy sê: Ek het ’n eed gesweer en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel sit. My Naam sal nooit weer deur enige van die mense van Juda wat in Egipte is, genoem word nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n plegtige belofte maak om krag aan julle woorde te gee nie. Julle mag nooit weer sê: ‘So waar as die Here leef’ nie!

27 Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie. Julle sal in oorloë kom en ’n skaarste aan kos hê. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.”

28 Die Here sê: “Net ’n baie klein klompie van hulle sal nie doodgaan nie en na Juda toe terugkom. Hulle sal op die ou einde weet dat Ek die waarheid gepraat het en nie hulle nie.