8 Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode hier in Egipte waar julle kom bly het! Al wat sal gebeur, is dat julle julleself sal vernietig. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.
9 Het julle al klaar die verkeerde dinge wat julle voorouers gedoen het, vergeet? Het julle van die verkeerde goed vergeet wat die konings en koninginne van Juda gedoen het? En wat van die verkeerde dinge wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het?
10 Tot vandag toe het julle nie gewys julle is jammer nie. Niemand is ook bang omdat hulle verkeerd gedoen het nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit alles vir julle en julle voorouers gesê om te doen, maar julle het nie.”
11 Daarom sê die Here wat die God van Israel is: “Ek het besluit om almal van julle te vernietig! Ek gaan ontslae raak van die hele Juda.
12 Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aangedring het om in Egipte te bly, uitwis. Hulle sal in Egipte in geweld of van die honger doodgaan. Almal, van klein tot groot, sal op so ’n manier doodgaan. Mense sal skrik as hulle sien wat met julle gebeur het. Die volke van die wêreld sal julle naam gebruik om mekaar te vloek of met julle te spot.
13 Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het. Hulle voorland is om dood te gaan in oorlog, van honger te sterf of die slagoffers van epidemies te wees.
14 Niemand van die mense wat oorleef het in Juda toe die res van die mense na Babel toe weggevat is, sal in Egipte oorleef nie. Hulle het gedink dat hulle net tydelik in Egipte sou kom bly en dan permanent na Juda sou teruggaan. Maar net ’n paar mense sal die rampe in Egipte oorleef en dit regkry om na Juda toe terug te gaan.”