1 Wat hier volg, is wat die Here vir Jeremia oor die nasies gesê het.
2 In die vierde jaar dat Jojakim koning van Juda was, het die Here met Jeremia oor Egipte gepraat. Dit het gegaan oor die Egiptiese koning farao Neko en sy leër. Koning Nebukadnesar van Babel het hom en sy leër by Karkemis by die Eufraatrivier verslaan.
3 Jeremia moes vir die soldate van Egipte sê: “Kry julle wapens reg en ruk op vir die geveg!
4 Ruiters, kry die perde reg en klim op! As julle julle helms opgesit het, julle spiese blink en reg het en julle beskermende harnasse aanhet, neem dan julle plek in vir die geveg!
5 Maar wat sien Ek? Die Egiptiese leër is verskrik. Hulle het teruggedraai. Hulle beste vegters is verslaan en kies die hasepad sonder om eens terug te kyk. Hulle word van alle kante af bedreig,” sê die Here.
6 “Selfs nie die vinnigstes kan wegkom nie. Die sterkste soldate kan ook nie ontsnap nie. Aan die noordekant by die walle van die Eufraatrivier struikel hulle en val.
7 Wie is dit wat soos die stygende water van die Nyl is? Die water bruis op en stroom oor die land soos riviere wat vloei.