5 Maar wat sien Ek? Die Egiptiese leër is verskrik. Hulle het teruggedraai. Hulle beste vegters is verslaan en kies die hasepad sonder om eens terug te kyk. Hulle word van alle kante af bedreig,” sê die Here.
6 “Selfs nie die vinnigstes kan wegkom nie. Die sterkste soldate kan ook nie ontsnap nie. Aan die noordekant by die walle van die Eufraatrivier struikel hulle en val.
7 Wie is dit wat soos die stygende water van die Nyl is? Die water bruis op en stroom oor die land soos riviere wat vloei.
8 Dit is die Egiptiese leër wat soos die water van die Nyl maak. Dit bruis soos ’n aanstormende rivier in vloed. Hulle sê dat hulle sal optrek en die aarde sal oorspoel. Hulle sal stede en die mense wat daarin bly, saam verwoes.
9 Hits die perde aan om vorentoe te gaan, laat die oorlogswaens optrek! Laat al die bondgenote uit Etiopië, Libië en Lidia wat hulle wapens goed kan gebruik, opruk!
10 Hierdie dag is die dag van die Here. Hy is sterker as alles en almal. Dit is ’n dag om wraak te neem op sy vyande en hulle terug te betaal. Dit sal ’n bloedige geveg wees. Baie mense sal doodgaan. Die groot klomp mense van die vyand wat in die noordelike deel van die land op die oewer van die Eufraatrivier sal omkom, sal vandag vir die Here wees soos offers wat gebring word.
11 Egipte, jy wat soos ’n jongmeisie is, gaan Gilead toe en kry salf! Maar jy moet weet, al jou medisynes sal jou nie gesond maak nie.