12 Maar die Here sê: “Die tyd kom dat Ek mense sal stuur wat die wyn sal uitgooi. As hulle al die wyn uitgegooi het, sal hulle die wynkruike stukkend breek.
13 As dit gebeur, sal Moab verleë wees omdat die afgod Kemos hulle nie gehelp het nie. Israel het ook destyds in die verleentheid gekom omdat hulle op Bet-El staatgemaak het.”
14 Moab, hoe kan julle nog sê: “Ons is helde, baasvegters in die oorlog?”
15 Die Here wat sterker as alles en almal is, die Koning, sê: “Moab en al haar stede sal verwoes word. Van haar beste jongmense is doodgemaak in gevegte.
16 Baie binnekort gaan Moab deur ’n groot ramp getref word. Die land se ondergang kom vinnig nader.
17 Almal wat naby aan Moab bly, kan solank begin huil oor hierdie land. Julle wat die reputasie van Moab ken, kan sê: ‘Die septer en die staf wat gewys het hoe sterk en trots die regering van Moab was, is nou gebreek.’
18 Julle wat in Dibon bly, klim van julle troontjie af en kom sit in die stof. Die vyand wat Moab vernietig, kom ook om teen julle te baklei. Die sterk plekke wat julle gebou het om julle teen julle vyande te beskerm is al klaar verwoes.