26 Hy sê ook: “Laat Moab slinger en val soos ’n dronk mens, want hy hou hom opstandig teen My. Laat Moab in sy eie braaksel rol sodat ander hom sal spot.
27 Het jy nie met Israel die spot gedryf nie, Moab? Jy het met Israel gemaak soos ’n mens met iemand sou maak wat tussen diewe betrap word. Jy het op Israel neergesien.
28 Burgers van Moab, vlug uit julle stede uit! Gaan bly in grotte soos duiwe wat hulle neste in die bek van ’n grot maak.
29 Ons het gehoor dat Moab ’n baie groot dunk van hulleself gehad het. Hulle was baie hoogmoedig en arrogant. Ons het verder gehoor van Moab se vermetelheid, trots en selfvoldaanheid.
30 Ek weet dat Moab verwaand was. Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals.
31 Daarom huil Ek oor Moab. Ek treur oor die mense van Kir-Geres.
32 Sibma is bekend vir sy wingerde. Ek treur meer oor Sibma se mense as oor Jaeser. Die takke van julle wingerd het vroeër so ver uitgesteek dat dit selfs tot by die Dooie See en Jaser gekom het. So wyd was julle mense versprei. Maar nou het ’n vyand wat julle wil verwoes, op julle toegesak. Hulle help hulleself aan julle somervrugte en julle druiwe.