Jeremia 48:33-39 DB

33 Moab was eens op ’n tyd ’n vrugbare plek. Maar nou het al die blydskap en vreugde uit Moab verdwyn. Julle blydskap is van julle af weggevat. Ek het gesorg dat daar nie meer wyn uit die wynpers kom nie. Daar is ook nie meer mense wat opgewek gesels terwyl hulle druiwe pars nie. Daar is mense wat skree, maar hulle doen dit nie omdat hulle bly is nie.

34 Om die waarheid te sê, die mense gil en skree van angs omdat hulle bang is. Die krete kan duidelik van Gesbon tot aan die ander kant by Elale en Jahas gehoor word. Verder ook weer van Soar af tot by Gonorajim en Eglat-Selisija. Selfs die waters van Nimrim het nou opgedroog.”

35 Die Here sê: “Ek sal dit stopsit dat mense na plekke toe gaan waar hulle offers bring en wierook brand om hulle gode op so ’n manier te eer.

36 In my hart voel Ek bitter jammer vir Moab en vir die mense van Kir-Geres. My gevoel is soos wanneer ’n mens die hartseer klanke van ’n fluit hoor. Ek voel hartseer, want al hulle rykdom is weg.

37 Hulle doen alles wat die mense gewoonlik doen as hulle rou. Almal loop met ’n kaalgeskeerde kop en met baarde wat afgesny is. Hulle het snymerke aan hulle hande en hulle dra klere van sak.

38 Oral in Moab is mense besig om te huil asof iemand dood is. Hulle doen dit op die plat dakke van hulle huise en op die pleine in die stede waar die mense altyd bymekaarkom. Hulle doen dit,” sê die Here, “omdat Ek hulle gebreek het soos ’n kleipot wat niemand meer gebruik of voor omgee nie.

39 Ag, hoe stukkend is Moab! Hoor hoe huil hulle! Moab is soos iemand wat wegdraai van ander omdat hy skaam is. Moab se bure dryf die spot met hulle. Maar as hulle al die verwoesting in Moab sien, skrik hulle.”