Jeremia 49:13-19 DB

13 Ek het gesweer, so waar as Ek leef, dat Bosra ’n plek sal word waarvoor mense sal skrik. Die stad sal ’n hoop bourommel word. Mense sal die naam as ’n vloekwoord gebruik en met die stad spot. Al die dorpies in Bosra se omgewing sal vir altyd verwoes lê.”

14 Ek het nuus van die Here af gekry dat ’n boodskapper na die nasies gestuur is om te sê: “Span saam teen Edom. Maak julle reg vir ’n geveg!”

15 Die Here sê: “Ek maak julle so klein onder die nasies, Edom, dat niemand meer iets van julle sal dink nie. Hulle sal julle verag.

16 Die ander volke is baie bang vir julle. Julle dink ook vreeslik baie van julleself. Maar dit het julle eintlik ’n vals idee gegee oor hoe goed julle is. Julle bly ook in rotsskeure en domineer die hoogste dele van die heuwels. Maar al bly julle soos arende op die hoë pieke van die berge, sal Ek julle hard aarde toe bring. Ek, die Here, sê dit is wat sal gebeur!

17 Almal sal aan die bewe gaan as hulle sien wat met Edom gebeur het. Mense wat daar verbygaan, sal ontsteld wees en na hulle asem snak oor al die rampe wat Edom getref het.

18 Die vernietiging van Edom sal net so erg wees as toe Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing verwoes is. Niemand sal meer daar bly nie.

19 Ek sal skielik op die mense van Edom afstorm soos ’n leeu wat uit die bosse by die Jordaan kom op soek na ’n prooi in die groen weivelde. Ek sal hulle uit hulle eie land laat weghardloop. Dan sal Ek ’n leier van my keuse oor hulle aanstel. Want wie kan met My vergelyk word? Wie kan dink om My uit te daag? Nie een van hulle leiers kan teen My opstaan nie.