18 Die vernietiging van Edom sal net so erg wees as toe Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing verwoes is. Niemand sal meer daar bly nie.
19 Ek sal skielik op die mense van Edom afstorm soos ’n leeu wat uit die bosse by die Jordaan kom op soek na ’n prooi in die groen weivelde. Ek sal hulle uit hulle eie land laat weghardloop. Dan sal Ek ’n leier van my keuse oor hulle aanstel. Want wie kan met My vergelyk word? Wie kan dink om My uit te daag? Nie een van hulle leiers kan teen My opstaan nie.
20 Luister mooi na wat die Here vir Edom en die mense van Teman beplan. Selfs die klein kindertjies sal uit hulle land weggevat word. Die res van die mense sal geskok wees oor wat met hulle gebeur.
21 Wanneer Edom tot ’n val kom, sal die aarde skud. Hulle geskree sal so ver as die Rietsee gehoor word.
22 Die vyand sal soos ’n arend maak wat sy vlerke sprei en hoog vlieg, en dan vinnig op sy prooi toesak. So sal die vyand met Bosra maak. Daardie dag sal van die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.”
23 Oor Damaskus sê die Here: “Die mense in die stede Hamat en Arpad is geskok omdat hulle slegte nuus gehoor het. Hulle hart voel so onstuimig soos die see en kan nie tot rus kom nie.
24 Damaskus se mense is moedeloos en wil net wegvlug. Hulle lewe word deur angs en vrees oorheers. Hulle voel bang en ellendig soos ’n vrou wat deur geboortepyne oorval word.