26 Die dag as al hierdie dinge gebeur, sal die jongmans in die strate val en doodgaan. Al die soldate van Damaskus sal doodgemaak word. Dit is wat Ek, die Here, sê, en Ek is sterker as alles en almal.
27 Ek sal ’n vuur in Damaskus aan die brand steek. Al koning Ben-Hadad se versterkte skuilplekke sal afgebrand word.”
28 Die volgende is wat die Here oor Kedar en die koninkryke van Gasor sê. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval.Die Here sê: “Maak reg en val Kedar aan! Vernietig die mense uit die ooste!
29 Die tente waarin hulle bly en ook hulle vee sal geroof word. Alles wat hulle in hulle blyplekke het, sal gevat word. Hulle kamele sal ook gesteel word. Die mense sal vir hulle skree: ‘Om elke hoek en draai is daar gevaar!’”
30 Die Here se raad vir die mense van Gasor is: “Vlug vir julle lewe! Gaan kruip weg in plekke wat veilig is. Koning Nebukadnesar het planne gereed oor wat hy met julle wil maak. Hy weet presies wat hy wil doen.”
31 Die Here se opdrag is: “Gaan val die volk aan wat so rustig bly. Hulle dink dat hulle baie veilig is. Hulle bly daar eenkant alleen sonder goed soos hekke en slotte om hulle te beskerm.
32 Vat gerus al hulle kamele en hulle groot getalle vee vir julle as buit. Ek sal hierdie mense wat so op die rand van die woestyn bly, in alle windrigtings verjaag. Ek sal dat rampe hulle van alle kante af tref. Ek, die Here, sê so.