30 Die Here se raad vir die mense van Gasor is: “Vlug vir julle lewe! Gaan kruip weg in plekke wat veilig is. Koning Nebukadnesar het planne gereed oor wat hy met julle wil maak. Hy weet presies wat hy wil doen.”
31 Die Here se opdrag is: “Gaan val die volk aan wat so rustig bly. Hulle dink dat hulle baie veilig is. Hulle bly daar eenkant alleen sonder goed soos hekke en slotte om hulle te beskerm.
32 Vat gerus al hulle kamele en hulle groot getalle vee vir julle as buit. Ek sal hierdie mense wat so op die rand van die woestyn bly, in alle windrigtings verjaag. Ek sal dat rampe hulle van alle kante af tref. Ek, die Here, sê so.
33 Gasor sal ’n eensame en verlate plek word. Mense sal nie meer daar bly nie. Dit sal net ’n plek wees waar jakkalse bly.”
34 Jeremia was ’n profeet van die Here. Die Here het vir hom sekere dinge oor Elam gesê. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het.
35 Die Here wat sterker as alles en almal is, het gesê: “Elam se krag lê in sy goeie boogskutters. Maar Ek sal hulle krag vernietig deur hulle boë te breek.
36 Ek sal dat die vyand van Elam al die mense van Elam in verskillende rigtings verstrooi. Dit sal wees soos winde wat Ek uit die vier windrigtings laat kom om hulle te verwaai. Daar sal nie ’n volk êrens wees by wie die mense wat uit Elam gevlug het, nie sal aanland nie.