1 Die Here sê: “Hardloop op en af in die strate. Kyk oral om julle rond. Soek by die bymekaarkomplekke in Jerusalem. As julle net een persoon kan kry wat eerlik is en reg probeer lewe, sal Ek die stad spaar.
2 Hulle sweer vals, selfs al gebruik hulle die Naam van die Here om te maak of hulle die waarheid praat.”
3 Here, U verwag van mense om eerlik te wees. U het u mense al ’n slag gestraf, maar dit het geen indruk op hulle gemaak nie. U het hulle verpletter, maar hulle wou nie leer nie. Hulle is hardkoppige mense, hulle weier om die verkeerde goed wat hulle doen te los en gehoorsaam aan U te wees.
4 Eers het ek gedink: “Wat kan ’n mens nou ook eintlik van arm en eenvoudige mense verwag? Hulle weet nie van beter nie. Hulle besef nie regtig wat die Here van hulle verwag nie.
5 Ek sal met die leiers gaan praat. Ek is seker hulle weet wat dit van ’n mens vra om die Here te dien en wat die vereistes is wat Hy stel.” Maar hulle was maar net soos die ander, sonder kennis en insig. Hulle het in opstand gekom en geweier om die Here te gehoorsaam.
6 Daarom sal Juda se vyand hulle soos roofdiere aanval. Hulle is soos leeus wat in ’n bos lê en dan uitkom om mense dood te maak. Soos woestynwolwe wat ander verskeur. Soos ’n luiperd wat naby die stede lê en loer en enigiemand wat dit waag om uit te kom uitmekaarskeur. Dit sal gebeur omdat hulle so baie goed verkeerd doen en dislojaal aan die Here is.