10 Die Here sê: “Juda is soos ’n wingerd. Ek stuur ’n vyand deur die wingerd om dit te verniel. Maar hulle moet nie die hele wingerd verwoes nie. Die lote wat nie aan My behoort nie, moet afgesny word.
11 Die mense van Israel en Juda het My totaal en al verraai.
12 Hulle het leuens oor die Here vertel en gesê: ‘Hy sal niks aan ons doen nie. Geen moeilikheid sal oor ons kom nie. Nie oorlog nie, ook nie hongersnood nie.
13 Die profete, die Here se boodskappers, se woorde is soos wind. Wat hulle praat, kom nie van die Here af nie. Mag die slegte dinge wat hulle sê gaan gebeur, op hulle eie kop afkom.’”
14 Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Omdat dit hulle praatjies is, Jeremia, sal Ek my woorde in jou mond soos vuur maak. Die boodskappe sal hierdie mense brand asof hulle vuurmaakhout is.”
15 Verder sê die Here vir Israel: “Ek laat ’n volk wat van ver af kom, teen julle optrek. Dit is ’n baie ou en sterk volk. Julle ken nie eens hulle taal nie en sal nie ’n woord kan verstaan wat hulle sê nie.
16 Die wapens wat hulle gebruik, is dodelik en hulle soldate baie sterk.