22 Het julle geen respek vir My nie?” vra die Here. “Is julle nie bang vir My nie? Ek het met die sand die grense vir die see getrek. Die see mag nie by hierdie grense verbygaan nie. Die branders van die see kan maar hoog opswel, hulle sal nie daaroor kan slaan nie. Hulle kan maar hard dreun, hulle sal nog steeds nie verby die sand kan kom nie.
23 Maar my volk is hardkoppig en opstandig. Hulle het die rug vir My gedraai en besluit om hulle eie kop te volg.
24 Dit kom nooit by julle op om te sê: ‘Kom ons gee eer aan die Here wat vir ons die reën op die regte tyd gee’ of ‘Wat ook op die regte tyd vir ons ’n goeie oes gee’ nie.
25 Dit is as gevolg van julle boosheid dat julle hierdie voorregte mis. Dit is al die verkeerde goed wat julle doen wat maak dat dit nie met julle goed gaan nie.
26 Daar is slegte mense onder my volk wat voëls stilletjies soos ’n jagter bekruip. Hulle slagoffers is egter nie voëls nie, maar mense.
27 Hulle huise is vol van al die bedrog wat hulle beplan om te pleeg. Dit is net soos ’n hok wat vol voëls is. En wat gebeur as gevolg daarvan? Hulle is nou belangrike en ryk mense.
28 Hulle is vet en blink! Hulle hou ook nie op om slegte dinge te doen nie. Hulle sorg nie dat mense regverdig en billik behandel word nie. Hulle kyk ook nie dat weeskinders regverdig behandel word nie. Hulle dra ook nie die belange van die armes op die hart nie.”