38 Dit sal selfs ook hulle water raak. Die water sal opdroog. Die rede hoekom al hierdie dinge gebeur, is die afgode. Die hele land is vol afgode en die mense is dol oor hulle.”
39 Die Here sê: “Wilde diere sal Babel hulle blyplek maak. Daar sal nooit weer mense wees wat daar bly nie, maar hiënas en volstruise sal daar bly.
40 Ek sal Babel verwoes net soos Ek destyds met Sodom en Gomorra gemaak het. Daar sal nie meer mense wees wat daar bly nie. Selfs nie eens net vir ’n rukkie nie.”
41 Die Here sê: “Wees gewaarsku, ’n volk uit die noorde is op pad na julle toe, Babel. Dit is ’n groot, sterk nasie. Baie konings uit die verste dele van die aarde is besig om reg te maak om teen julle op te trek.
42 Hulle het al die wapens wat nodig is om te veg. Hulle is baie wreed en sal niemand spaar nie. Die troepe ry op perde en dit klink soos die see wat dreun as hulle aankom. Hulle is goed georganiseerd en reg om julle aan te val, mense van Babel.
43 Die nuus het by die koning van Babel uitgekom dat ’n mag besig was om teen hulle op te trek. Dit het hom lam van vrees gemaak. So erg was dit dat hy verskriklike angs en pyne begin kry het.”
44 Die Here sê ook: “Ek sal soos ’n leeu maak wat uit die digte bosse by die Jordaan spring en die skape aanval wat besig is om te wei. Ek sal die mense van Babel uit hulle land jaag. Daarna sal Ek ’n leier wat Ek verkies, daar aanstel. Sê ’n bietjie vir My, wie kan met My vergelyk word? Wie kan My uitdaag? Watter koning kan dit durf waag om hom nie te steur aan wat Ek wil hê of verwag nie?”