Jeremia 51:10-16 DB

10 Die Here het bewys dat ons nie skuldig is nie. Kom ons gaan Jerusalem toe. Daar kan ons alles vertel wat die Here ons God gedoen het.”

11 Die Here het die koning van die Mediërs laat lus kry om teen die Babiloniërs op te trek en hulle te vernietig. Hy wil wraak neem omdat hulle die tempel beskadig het. Daarom por die Here die Mediërs aan: “Kry julle wapens reg om te kan veg!

12 Gee die teken met die vlag om te wys die oorlog teen die Babiloniërs het begin. Val die mure van Babel aan! Sorg dat daar oral wagte op hulle plekke is en dat hulle op en wakker is. Stel ook vir hulle hinderlae om in vas te loop.” Die Here weet wat Hy vir die Babiloniërs in gedagte het. Hy sal sorg dat wat Hy beplan het, so sal gebeur.

13 Babel is gelukkig om baie water te hê. Dit is ook ’n stad met baie rykdom. Maar nou is die waarheid dat die einde van die stad om die draai is. Hulle lewensdraadjie word geknip.

14 Die Here wat sterker as alles en almal is, sweer by Homself: “Julle kan vir seker weet, julle vyande sal julle stad oorspoel net soos ’n swerm sprinkane met ’n koringland maak. Hulle sal luidkeels skree om te wys dat hulle Babel verslaan en ingeneem het.”

15 Die Here het die aarde deur sy krag gemaak. Deur sy kennis het Hy die wêreld gemaak en deur sy insig het die uitgestrekte hemel vorm gekry.

16 As Hy praat, is daar donderweer in die hemel. Hy laat die wolke oor die aarde opkom. Verder laat Hy ook die weerlig slaan as dit reën. Hy laat die wind uit sy stoorkamers uitkom.