20 Die Here sê: “Babel, jy is my hamer waarmee Ek oorlog maak. Ek sal jou gebruik om volke mee stukkend te slaan. Ek sal met jou hulp koninkryke verwoes.
21 Ek sal jou gebruik om perde en ruiters uitmekaar te slaan en ook oorlogswaens met hulle bemanning.
22 Met jou hulp sal Ek mans, vroue, oumense, kinders en jongmense uitwis.
23 Verder sal Ek jou gebruik om herders en hulle vee uit te roei. Ek sal ook met jou hulp boere en hulle osse tot niet maak. Ek sal julle gebruik om offisiere en mense wat regeer te vernietig.”
24 Die Here sê ook: “Ek sal Babel en die Babiloniërs terugkry vir al die kwaad wat hulle aan my volk in Jerusalem gedoen het. Julle sal dit voor julle oë sien gebeur.”
25 Vir Babel sê die Here: “Dit kan jy maar weet, Babel, Ek is jou vyand. Jy is soos ’n berg wat die hele wêreld verwoes. Groot en sterk. Maar Ek sal jou teen die hange van die berg laat afrol. Al wat van jou sal oorbly, sal die as wees nadat jy verbrand is.
26 Jy sal vir altyd verwoes lê. Niemand sal eers uit jou rommel ’n klip vir ’n hoeksteen of ’n fondasie gebruik nie.”