24 Die Here sê ook: “Ek sal Babel en die Babiloniërs terugkry vir al die kwaad wat hulle aan my volk in Jerusalem gedoen het. Julle sal dit voor julle oë sien gebeur.”
25 Vir Babel sê die Here: “Dit kan jy maar weet, Babel, Ek is jou vyand. Jy is soos ’n berg wat die hele wêreld verwoes. Groot en sterk. Maar Ek sal jou teen die hange van die berg laat afrol. Al wat van jou sal oorbly, sal die as wees nadat jy verbrand is.
26 Jy sal vir altyd verwoes lê. Niemand sal eers uit jou rommel ’n klip vir ’n hoeksteen of ’n fondasie gebruik nie.”
27 Gee ’n teken aan die nasies en blaas op ’n trompet sodat almal kan weet om oorlog teen Babel te kom maak. Roep die volke en lande met konings soos Ararat, Minni en Askenas op vir die oorlog teen Babel. Stel dan ’n bevelvoerder aan om die soldate in die oorlog te lei. Gebruik ook so baie perde dat hulle soos ’n swerm sprinkane sal lyk.
28 Laat die leërs van die konings van Medië en ook hulle leiers en amptenare gereedmaak vir die aanval. Sluit ook by hierdie mag al die leërs in van die volke waaroor hulle beheer het.
29 Die Here sê: “Die land skud en bewe van pyn en swaarkry, want Ek, die Here, is besig om te doen wat Ek teen Babel beplan het. Ek sal Babel ’n verlate plek maak waar niemand meer sal bly nie.
30 Die situasie is maar beroerd! Die soldate van Babel baklei nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle het bang mense geword. Die huise in die stad is aan die brand en selfs die stadshekke is afgebreek.