26 Jy sal vir altyd verwoes lê. Niemand sal eers uit jou rommel ’n klip vir ’n hoeksteen of ’n fondasie gebruik nie.”
27 Gee ’n teken aan die nasies en blaas op ’n trompet sodat almal kan weet om oorlog teen Babel te kom maak. Roep die volke en lande met konings soos Ararat, Minni en Askenas op vir die oorlog teen Babel. Stel dan ’n bevelvoerder aan om die soldate in die oorlog te lei. Gebruik ook so baie perde dat hulle soos ’n swerm sprinkane sal lyk.
28 Laat die leërs van die konings van Medië en ook hulle leiers en amptenare gereedmaak vir die aanval. Sluit ook by hierdie mag al die leërs in van die volke waaroor hulle beheer het.
29 Die Here sê: “Die land skud en bewe van pyn en swaarkry, want Ek, die Here, is besig om te doen wat Ek teen Babel beplan het. Ek sal Babel ’n verlate plek maak waar niemand meer sal bly nie.
30 Die situasie is maar beroerd! Die soldate van Babel baklei nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle het bang mense geword. Die huise in die stad is aan die brand en selfs die stadshekke is afgebreek.
31 Van oraloor kom boodskappers aangehardloop met nuus vir die koning van Babel dat alles verlore is. Daar is nie meer hoop nie, want die stad is van alle kante af ingeval.
32 Daar is ook nie meer wegkomkans nie, want al die ontsnaproetes oor die riviere is afgesny. Verder is die riete aan die brand gesteek. Die soldate van Babel is lam van angs.”