30 Die situasie is maar beroerd! Die soldate van Babel baklei nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle het bang mense geword. Die huise in die stad is aan die brand en selfs die stadshekke is afgebreek.
31 Van oraloor kom boodskappers aangehardloop met nuus vir die koning van Babel dat alles verlore is. Daar is nie meer hoop nie, want die stad is van alle kante af ingeval.
32 Daar is ook nie meer wegkomkans nie, want al die ontsnaproetes oor die riviere is afgesny. Verder is die riete aan die brand gesteek. Die soldate van Babel is lam van angs.”
33 Die Here is die God van Israel. Hy sê: “Babel is soos die plek waar die koring bewerk word. Die gebruik is om die koring met die voete te trap. Dit is wat met Babel gaan gebeur. Babel gaan soos koring geoes en vertrap word.”
34 Van Babel word gesê: “Nebukadnesar, die koning van Babel, het ons geëet en verpletter. Hy het al ons krag getap en ons leeg laat voel. Hy het ons soos ’n groot monster ingesluk. Hy het sy maag met ons skatte volgemaak. Hy het ons uit ons eie land gegooi.”
35 Die mense van Jerusalem sê: “Mag Babel terugbetaal word vir al die geweld wat ons moes deurgaan. Mag die skuld vir ons dood op die Babiloniërs afkom! Ons hoop hulle gaan swaar daarvoor betaal.”
36 Die Here sê vir die mense van Juda: “Ek belowe dat Ek julle saak sal opneem. Ek sal ook sorg dat Babel betaal vir wat hulle aan julle gedoen het. Die mense van Babel is afhanklik van die Eufraatrivier en fonteine vir water om van te leef. Ek sal dit laat opdroog.