34 Van Babel word gesê: “Nebukadnesar, die koning van Babel, het ons geëet en verpletter. Hy het al ons krag getap en ons leeg laat voel. Hy het ons soos ’n groot monster ingesluk. Hy het sy maag met ons skatte volgemaak. Hy het ons uit ons eie land gegooi.”
35 Die mense van Jerusalem sê: “Mag Babel terugbetaal word vir al die geweld wat ons moes deurgaan. Mag die skuld vir ons dood op die Babiloniërs afkom! Ons hoop hulle gaan swaar daarvoor betaal.”
36 Die Here sê vir die mense van Juda: “Ek belowe dat Ek julle saak sal opneem. Ek sal ook sorg dat Babel betaal vir wat hulle aan julle gedoen het. Die mense van Babel is afhanklik van die Eufraatrivier en fonteine vir water om van te leef. Ek sal dit laat opdroog.
37 Babel sal ’n hoop bourommel word. Die jakkalse sal dit hulle lêplek maak. Mense wat die verskriklike toestand van die plek sien, sal van skok na hulle asem snak. Niemand sal meer daar bly nie.
38 Die Babiloniërs gaan woes te kere en brul soos leeus. Hulle grom soos leeuwelpies.
39 Terwyl hulle nog so warm is van die wyn, sal Ek vir hulle ’n ander fees hou. Ek sal hulle laat drink totdat hulle baie vrolik is en aan die slaap raak. Hulle sal aanhou slaap en nooit weer wakker word nie.
40 Ek sal hulle bring om soos lammers, ramme en bokke geslag te word.”