Jeremia 51:50-56 DB

50 “Julle mense van Juda wat die oorlog oorleef het, begin beweeg! Moenie nou staan en talm nie! Julle is miskien nou nog in ’n ver land, maar dink aan My, die Here. Maar droom ook ’n slag ’n bietjie oor Jerusalem waar julle huise is.”

51 Julle sê: “Ons is verneder. Hulle het gekke van ons gemaak. Ons is skaam omdat vreemde mense in die tempel van die Here ingegaan het. Die ergste is dat hulle in ’n deel van die tempel ingegaan het waar net die hoëpriester mag ingaan.”

52 Die Here het geantwoord: “Die tyd kom dat Ek die beelde wat van die afgode van Babel gemaak is, sal verwoes. Deur die hele land sal die gekreun van gewonde mense ook gehoor word.

53 Dit is so dat Babel so hoog gebou is dat dit amper aan die hemel raak. Die stad se torings is ook sterker gemaak om aanvalle te kan weerstaan. Al is dit so, Ek sal vyande stuur om Babel aan te val. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!”

54 Hoor hoe skree hulle in Babel. ’n Mens hoor die groot lawaai soos die land vernietig word.

55 Die Here is besig om Babel te verwoes. Hy sal die rumoer in die stad laat stil word. Die vyand sal met ’n gedreun teen die stad aanstorm soos die golwe van ’n massa water. Hulle skree oorlogskrete terwyl hulle die stad bestorm.

56 ’n Vyand trek teen Babel op om die stad te verwoes. Hulle sal die soldate gevange neem en hulle wapens stukkend slaan. Die Here sorg dat mense die straf kry wat hulle verdien. Dit is presies wat Hy besig is om met Babel te doen. Hulle kry die straf wat hulle toekom.