57 Die Here is Koning en sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal die leiers dronk maak. Dit sluit in die senior amptenare, raadgewers, offisiere en soldate. Hulle sal aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie.”
58 Die Here sê ook: “Babel se mure is baie dik, maar sal met die grond gelykgemaak word. Die hekke van die stadsingange is baie hoog, maar sal met vuur verbrand word. Hulle het baie mense van ander lande gedwing om vir hulle te werk, maar al hulle werk was verniet. Dit sal met vuur verbrand word.”
59 Jeremia was ’n profeet van die Here. Hy het ’n boodskap saam met Seraja na Babel toe gestuur. Seraja was die seun van Nerija en kleinseun van Magseja. Hy het saam met koning Sedekia na Babel gery en was verantwoordelik vir die reisreëlings. Dit was in die vierde jaar dat Sedekia koning van Juda was.
60 Jeremia het al die rampe en ellendes wat Babel sou tref, in ’n boek opgeskryf.
61 Hy het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles wat in die boek geskryf is, hardop lees.
62 Jy moet sê: ‘Here, U het gesê dat U hierdie stad so erg gaan verwoes dat geen mens of dier meer hier sal bly nie. Die stad sal vir altyd so leeg en verlate bly.’
63 As jy die boek klaar gelees het, moet jy dit aan ’n klip vasmaak en in die middel van die Eufraatrivier gooi.