5 Kom ons val liewer die stad in die nag aan en dan vernietig ons die plekke wat vir verdediging gebruik word.”
6 Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Sny bome af en bou ’n oprit met hierdie bome teen die mure van Jerusalem. So kan die stad dan ingeneem word. Hierdie stad moet gestraf word, want baie mense in die stad het nie vryheid nie, maar word onderdruk.
7 Jerusalem is soos ’n put wat aanhou vars water gee. Die mense van die stad hou net aan met geweld en die mishandeling van mense. Ek sien net altyd mense wat siek is en gewond in die stad lê.
8 Dit is jou laaste waarskuwing, Jerusalem! As julle nie luister nie, sal Ek My van julle losmaak. Ek sal julle stad verwoes en geen mense sal daarin bly nie.”
9 Die Here sê: “’n Wingerd word dikwels ’n tweede keer deurgewerk op soek na trossies druiwe wat dalk oorgeslaan is. Dieselfde sal met Israel gebeur. Party van die mense is reeds uit die land uit weggevat. Maar die mense wat in die land agtergebly het, sal weer aangeval word.”
10 Met wie sal ek praat? Wie sal luister as ek ’n waarskuwing gee? Dit lyk of hulle ore toe is, want hulle luister nie na wat ek te sê het nie. Hulle maak grappies van wat die Here sê en neem nie sy woorde ernstig op nie.
11 Ek kan aanvoel hoe kwaad die Here vir hulle moet wees. Ek kan my woede nie langer inhou nie. Die Here sê: “My woede gaan uitbars oor Jerusalem. Laat die kinders wat in die strate speel, mooi verstaan hoe kwaad Ek is, ook die jongmense, waar hulle ook al bymekaar is. Ek sal ook nie mans, vroue, oupas en oumas spaar nie.