17 Kan jy nie sien wat hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie?
18 Dit maak My woedend! Die kinders maak hout bymekaar. Die pa’s is besig om vuur te maak. Die vroue knie deeg en bak koeke vir die afgod wat hulle die koningin van die hemel noem. Vir hulle ander afgode bring hulle drank om hulle te plesier.
19 Ek wil vra: Wat dink hulle, dat Ek nou eintlik die een is wat gaan seerkry? Nee, hulle trek aan die kortste end. Hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.”
20 Daarom sê die Here wat die meeste mag van almal het: “Ek sal hierdie land my woede en my straf laat voel. My woede is soos ’n vuur wat nie doodgemaak kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste op die land verteer.”
21 Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Gaan aan, bring nog meer offers wat verbrand word saam met julle ander offers. Ja, en eet self die vleis.
22 Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie.
23 Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.