15 Ons het gehoop vir ’n tyd van vrede, maar daar het niks van gekom nie. In plaas van ’n tyd waarin ons gehoop het dat dinge vir ons sou regkom, het iets skrikwekkends met ons gebeur.
16 Ons kon alreeds uit Dan, wat op die noordelike grens is, die gerunnik van die vyand se perde hoor. Al die mense van die land het begin bewe toe hulle besef dat die vyand se leër op pad is. Die vyand se plan was om ons land en alles wat daarop is te kom verwoes. Ook elke stad van ons en die mense wat daarin bly.”
17 Die Here sê: “Ek stuur die vyand se soldate soos giftige slange tussen julle in. Julle kan hulle nie betower nie. Net mooi niks wat julle ook al probeer doen om dit te keer, sal help nie. Die slange sal julle pik en julle sal doodgaan.”
18 Jeremia sê: “My hartseer oorweldig my. Ek is siek van ontsteltenis.
19 Hoor die benoude geroep van my mense. Dit weerklink deur die hele land: ‘Is die Here nie meer in Jerusalem nie? Is die koning ook nie meer in die stad nie?’” Hierop antwoord die Here: “Waarom buig hulle voor nuttelose afgode wat met die hand gemaak is? Hulle maak My sommer baie kwaad!”
20 Die mense kla: “Ons het klaar geoes en die somer is al verby, maar ons is nog nie vrygemaak nie.”
21 Jeremia sê: “My mense is gewond en voel baie pyn. Hulle pyn voel vir my asof dit my eie pyn is. Ek huil oor hulle. Ek voel so platgeslaan oor hulle toestand.